Wil God my Vader wees?

‘n Man stap saam met sy seun iewers in die suide van Engeland. Skielik hoor hy “Pappa, vang my!”
Hy draai om en sien hoe sy seun deur die lug trek. Hy het van ‘n groot klip afgespring en terwyl hy spring het hy gesê: “Pappa, vang my!”
Net betyds het die pa sy arms uitgesteek. Saam het hulle die grond getref.

Nadat hy weer sy asem teruggekry het, het die pa gevra : “Hoekom het jy dit gedoen?”. “Omdat jy my pa is!” antwoord die seun. Ek dink daardie man was nog nooit so bang nie. En ek dink hy was nog nooit so trots nie.

Die ouer-kind verhouding is belangrik

Die verhouding tussen ‘n ouer en kind is iets unieks. ‘n Ouer se liefde vir ‘n kind is iets wat met niks vergelyk kan word nie. En daar is niks in jou lewe wat so belangrik is vir ‘n stabiele basis soos die liefde van jou ouers nie. Ons kosbaarste herrinneringe sluit dikwels oomblikke saam met ons ouers of met ons kinders in.

Maar vir baie is daar ook gevoelens van pyn betrokke. Pyn omdat jy nie die liefde ontvang het wat jy so nodig gehad het nie. Pyn, omdat jy weet dat jy misluk het. Pyn omdat iets verkeerd geloop het, gebreek het, en omdat jy nie eers weet presies wat of hoe nie.

Om ‘n kind van God te wees

Ek het ook op ‘n storie afgekom (daar is ‘n bespreking oor hoeveel daarvan histories korrek is), oor ‘n seuntjie wat aan die einde van die 19e eeu gebore is, vanuit ‘n ongetroude ma. Dit was destyd skaars en is oor die algemeen as ‘n skande beskou. Op skool is hy daaroor geboelie.

Een keer in die kerk was daar ‘n prediker wat sy hand op die seuntjie se kop gesit en hom gevra het: “Aan wie behoort jy, seun?” Iets in die seun se oë of in die reaksie van die mense om hom het vir hom gewys dat hy ‘n pynlike punt aangeraak het. En die pastoor het gesê : “O, ek kan dit sien. Jy is ‘n kind van God! Ek sien duidelik die familie-eienskappe in jou.” Dit was die identiteit waaraan die seun vasgeklou het.

God wil jou Vader wees

Dink aan die beste van jou eie pa, en dit is hoe God vir jou wil wees. As jy aan jou pa dink en jy pyn voel omdat hy nie daar was vir jou nie of omdat hy in sekere maniere ontoereikend was in sy rol as pa teenoor jou, dan is die beeld van God as Vader nog steeds ‘n mooi en goeie een.

Jou pyn bewys dat jy weet hoe ‘n pa moet wees. Jou pyn bewys dat jy smag na ‘n pa wat jou nie teleurstel nie. Die Here God wil vir jou so ‘n Vader wees. Ons weet dit, want die Here Jesus het ons self geleer om die Here God as “Vader” aan te spreek. (Matteus 6:9)

Maar dit is goed om te besef dat God  nie outomaties die Vader van almal is nie. Hy is die Vader van die wat in  Jesus glo. Die evangelie van Johannes sê : “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Johannes 1:12) Het jy al die Here Jesus as die Here van jou lewe aangeneem?

 

Deel plasing