‘n Christelike huwelik is ‘n huwelik wat ingestel is en funksioneer volgens Bybelse beginsels.
Dit is ‘n huwelik tussen een man en een vrou (Genesis 2:24, Matteus 19: 4,5). In ‘n Christelike huwelik is daar nie ruimte vir meer vroue of mans nie. ‘n “Huwelik” tussen twee mans of twee vroue is ook nie ‘n huwelik volgens Bybelse beginsels nie. ‘n Christelike huwelik is ‘n lewenslange verbond tussen een man en een vrou.
‘n Belofte voor God
‘n Christelike huwelik het begin met ‘n belofte voor God om getrou aan mekaar te wees. In Maleagi 2:14 staan daar ‘… omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is’. Spreuke 2:17 praat van die owerspel waar die metgesel haar eie man verlaat en die verbond van haar God vergeet het. Die woord ‘verbond’ verwys hier na haar huwelik. Hierdie vers wys daarop dat die huwelik ‘n verbond voor God is.
‘n Belofte voor ander mense
Daar moet ook ‘n belofte gemaak word voor ander mense, sodat die gemeenskap die paartjie as ‘n egpaar kan behandel. Op die manier kan die egpaar ook aanspreeklik gehou word vir die beloftes wat hulle voor die getuies aan mekaar gemaak het. Toe Jesus met die vrou by die put in Samaria gepraat het, het hy gesê: ‘Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.’ (Johannes 4:18). Hierdie vrou het saam met ‘n man gewoon, maar hy was nie haar man nie omdat daar nooit ‘n openbare belofte gemaak was nie, dus het Jesus hulle as ongetroud gesien.
Seksuele omgang
Dit word gewoonlik voltrek deur seksuele omgang (Genesis 2:24; Matteus 19:4,5) (tensy gestremdheid of ander omstandighede verhoed dat die paartjie seksuele omgang het). Seksuele omgang moet slegs binne die verbondsverhouding van ‘n huwelik plaasvind. Seksuele verhoudings buite die huwelik is owerspel en onsedelik (Hebreërs 13:4).
Geen ruimte vir selfsugtigheid
‘n Christelike huwelik beeld die verhouding tussen Christus en die kerk uit (Efesiërs 5:32). Christus het Sy lewe vir die kerk afgelê; Net so moet mans hulle lewe vir hul vroue gee en hulle liefhê soos hul eie liggame (Efesiërs 5: 25-29). Vroue moet aan hul mans onderdanig wees, soos die kerk aan Christus, en hul erken as die hoof van die familie (verse 22-24). Daar is geen ruimte vir selfsugtigheid in die Christelike huwelik nie. Die paartjie word aangesê om mekaar te vereer (1 Petrus 3: 2,7). Die Christelike huwelik weerspieël die verhouding tussen Christus en die kerk. Daar moet wedersydse liefde, getrouheid en ‘n dienende gesindheid aan beide kante wees.
Uitdaginge in die huwelik
Natuurlik leef ons in ‘n wêreld waar Christene ook dikwels sukkel in hul huwelike as gevolg van die sondeval.. Maar ten spyte van al die probleme word beide vennote in ‘n Christelike huwelik geroep om Christus in hul huwelik uit te beeld. Dit beteken dat hulle gereed is om mekaar te vergewe. Dit beteken dat hulle bereid is om gehoorsaam te wees aan God en Sy Woord, wat sê dat paartjies aan mekaar getrou moet wees, selfs al word dit moeilik. Dit beteken dat die paartjie daarna streef om God in hul verhouding te eer. God sal ons die genade gee om dit te doen wanneer ons hom vra! (Hebreërs 4: 14-16).