Waarom noem Christene mekaar ‘broers en susters’?

Hermanos

In baie Nuwe-Testamentiese briewe word die lesers as ‘broers’ aangespreek. Kyk byvoorbeeld na Romeine 1:13, 1 Korintiërs 1:10, Galasiërs 1:11 en 2 Petrus 1:10. In die boek Handelinge lees ons dat dit al gebruiklik was onder die apostels en in die vroeë kerk (bv. Hand. 1: 15-16, Hand. 2:37, Hand. 15: 3, Hand. 15:23).

Sommige Bybelvertalings skryf hier ‘broers en susters’ om duidelik te maak dat mans en vroue deur hierdie algemene term aangespreek word. Dit is duidelik dat nie al hierdie mense uit dieselfde familie is nie. Waarom noem hulle mekaar dan ‘broers en susters’?

Jesus definieer wie sy broers en susters is

In die Evangelies lees ons hoe Jesus ‘n nuwe definisie gee van familielidmaatskap. Hy word vertel dat sy moeder en broers na Hom soek. Hulle is Sy ‘regte’ familielede, maar Jesus antwoord: “Wie is my moeder en my broers?” […] Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” (Markus 3:32-35).

Jesus definieer broederskap nie deur natuurlike verhoudings nie, maar deur geestelike verbintenisse. Dit beteken nie dat natuurlike gesinslede nie belangrik is nie (sien bv. 1 Timoteus 5: 8). Maar dit beteken wel dat die geestelike verhouding nog sterker is.

Christene is almal kinders van een Vader

Gelowiges is broers en susters omdat hulle almal ‘n spesiale verhouding met God die Vader het. Romeine 8:14-16 verduidelik: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Dieselfde hoofstuk sê: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.(Romeine 8:28-29). Jesus Christus is die Seun van God. Maar God neem mense in sy gesin op, sodat hulle almal geestelike broers en susters word.

Broederlike liefde

Om broers en susters in Christus te wees, gee ons ‘n sekere verantwoordelikheid vir mekaar. Ons moet ander liefhê soos onsself, maar ons geestelike gesin het ‘n spesiale plek. Soos Galasiërs 6:10 sê: “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.”

Ons is geroep tot broederliefde (Johannes 13:34, Romeine 12:10, Hebreërs 13: 1). Ons word opgeroep om simpatie met mekaar se smarte te hê en in eenheid te leef (1 Petrus 3: 8). Saam vorm ons een wêreldwye kerk, die bruid van Christus.

 

Deel plasing