Jesus het sowat tweeduisend jaar gelede na hierdie aarde gekom, tot die ouderdom van ongeveer 33 geleef, aan die kruis gesterf, uit die dood opgewek en toe, ná veertig dae, na die hemel teruggekeer (Luk. 24:50, 51). En tot vandag toe is Jesus nog in die hemel. Daar is baie verse in die Bybel wat ons dit leer.
Aan die regterhand van God
Paulus sê vir ons in Romeine 8:34, dat Jesus aan die regterhand van God is. Jesus wat aan die regterhand van God is, beteken dat Hy die hoogste ereplek moontlik het. Die brief van Efesiërs 1:21-23 sê: “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Deur hierdie verse te lees, is daar geen twyfel oor waar Jesus is en of Hy in beheer is of nie.
In die boek Handelinge word ‘n gebeurtenis opgeteken waar Jesus eintlik aan die regterhand van God gesien word. Toe Stefanus, een van die sewe manne wat gekies is om te help om na die kerk om te sien, gestenig is, het hy Jesus aan die regterhand van God sien staan (Hand. 7:55).
Al is Hy nie meer fisies teenwoordig op die aarde nie, stel die Here Jesus steeds intens belang in die welsyn van sy volgelinge. Hy het die lyding van Stefanus gesien en hom getroos op die oomblik wat Stefanus in groot fisiese pyn was.
Hoekom het Jesus hemel toe gegaan?
In Johannes 16 verduidelik Hy dat dit tot die kerk se voordeel is as Hy gaan, sodat die Heilige Gees kan kom. Johannes 16:7-9 “tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie.”
Jesus het hemel toe gegaan sodat Hy ‘n plek kon voorberei vir elke persoon wat in Hom glo (Joh. 14:2,3). Wanneer ons sterf, en glo in die naam van Jesus Christus, is ons seker dat ons in die Hemel ontvang sal word, en dat ‘n plek vir ons voorberei is deur ons Verlosser.
Jesus het Hemel toe gegaan om voort te gaan met Sy bediening as Middelaar tussen God en mense. Romeine 8:34 leer ons dat Hy vir ons intree. ‘Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.’
Met Christus aan jou kant is daar niks om te vrees nie: Hy het vir sondes gesterf, die dood oorwin en Hy is verhef tot die plek van die grootste eer en spreek namens jou in die teenwoordigheid van God. Dank God dat Jesus op die beste moontlike plek is waar Hy kan wees en dat Hy die Heilige Gees gestuur het om jou te lei, jou te verander en jou veilig te hou tot die dag dat jy by Jesus in die hemel sal aansluit en Hom van aangesig tot aangesig sal sien.