Vir diegene wat dit nog nooit gedoen het nie, kan vas na ‘n vreemdebesigheid lyk. Hoekom sal iemand gewillig sonder kos bly as hulle honger is? In die moderne wêreld is selfbevrediging en onmiddellike bevrediging normaal. Hoekom dit later hê as jy dit nou kan hê? Hoekom sal jy vas?
Voorbeelde uit die Bybel
In die Bybel is daar talle voorbeelde van mense wat vas wat ons help om die vraag te beantwoord: “Hoekom sal jy vas?”
Hier volg ‘n paar daarvan:
- Toe die profeet Jona vir die mense van Nineve gepreek het, het die Nineviete gevas om hulle bekering en droefheid oor sonde te toon (Jona 3:7-8).
- Toe koning Dawid se babaseuntjie naby die dood was, het hy gevas om sy hartseer te toon en om hom aan gebed toe te wy (2 Samuel 12:16).
- Toe Jesus in die woestyn versoek is, het Hy gevas om Homself op gebed te konsentreer en Homself voor te berei vir Sy sending wat voorlê (Matteus 4:1-2).
- Net so, onmiddellik na sy dramatiese bekering op pad na Damaskus, het die apostel Paulus gevas terwyl hy gebid het en probeer verstaan wat hy gesien het en wat Christus hom roep om te doen (Hand. 9:8-9).
Vas & Gebed
Wat al hierdie voorbeelde ingemeen het, is gebed. Mense het gekies om vir ‘n sekere tydperk kos op te gee om hulle aandag deur gebed op God te vestig. Iets baie betekenisvol het in hul lewe gebeur, of hulle het voorberei vir iets baie betekenisvol. Die doel van vas is om jouself aan God toe te wy. Dit kan gevra word: “Kan jy jou nie aan God toewy sonder om te vas nie?” Ja jy kan. Vas is nie ‘n Bybelse vereiste nie, en sommige Christene huiwer om te vas omdat vas soms misbruik is deur mense wat aan God of ander wou bewys hoe heilig hulle is. Jesus het Sy dissipels gewaarsku om nie te vas om ander te beïndruk nie, maar om privaat te vas om God te eer (Matteus 6:16-18). Maar al kan vas met die verkeerde motivering gedoen word, beteken dit nie dat ons dit heeltemal moet vermy nie.
Heeltemal afhanklik van God
Behalwe vir gebed, is ‘n groot rede om te vas om jouself te herinner dat jy heeltemal afhanklik is van God. Elke keer as jou maag dreun, is dit ‘n herinnering dat jy nie selfversorgend is nie, maar jy is afhanklik van God wat vir ons ons “daaglikse brood” gee (Matteus 6:11). Honger dien om ons te herinner dat brood nie ons god is nie. God is ons God. Voorsiening in ons behoeftes kom van God, nie van ons nie. Toe Satan Jesus versoek het om klippe in brood te verander, het Jesus die Ou Testament aangehaal:
(Matteus 4:4).
Hoe vas jy?
So hoe vas jy? Almal doen dit anders. Sommige mense eet of drink niks vir vier-en-twintig uur nie, hetsy by ‘n spesiale geleentheid, of een keer per week, of een keer per maand. Ander mense drink water of vrugtesap in plaas van kos. Nog ander eet nie sekere soorte kos vir ‘n tydperk nie, of eet net een maaltyd in plaas van drie op ‘n enkele dag. As gevolg van persoonlike mediese probleme kan sommige mense nie vas nie, of hulle kan nie so intens soos ander vas nie.
Maak dit gemaklik
As jy nog nooit vantevore gevas het nie, probeer om dit makliker te maak, slaan dalk net een maaltyd oor en neem die tyd wat jy normaalweg sou eet om te bid. Vas word nie deur die Bybel vereis nie, maar dit is deur gelowiges in God beoefen, beide in die Bybel en deur die geskiedenis heen. As jy wil groei in jou verhouding met God of as daar ‘n groot gebeurtenis in jou lewe is, kan vas vir jou ‘n seën wees. Waarom sal jy dan nie vas nie?