Dit is ‘n emosionele vraag, waarskynlik gewortel in persoonlike ervarings van spanning. Miskien verskil jy met die ouderlinge in jou kerk. Hulle vra jou om iets te doen, maar jy stem regtig nie saam nie. Wat moet jy in so ‘n situasie doen? Die vraag duik op: as ek nie die kerk gehoorsaam nie, sal ek verlore wees?
Manipulasie?
My eerste gedagte is: dit gaan nie oor wat jou kerk sê nie, maar oor wat God sê. Die kerk kan ons help om God se wil te verstaan. Maar die kerk bestaan uit gewone mense wat verkeerd kan wees. As iemand sê: “Doen wat ek vir jou sê, anders gaan jy verlore”, gaan my alarmklokkies af. Dit ruik na manipulasie. Dit kan nie God se plan wees nie.
God sal ‘n pad maak
Die kerk is geroep om God se Woord te verkondig. In hierdie Woord van God vind ons baie reëls vir ‘n geseënde lewe. Dit is baie wys om mooi na hierdie regulasies te luister. As jy planne maak, vra in gebed: “Here, wat wil U hê moet ek in hierdie situasie doen?”
Spreuke 3:5-6 sê: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.“ As jy God se wil in ag neem in alles wat jy doen, sal Hy vir jou ‘n pad oopmaak.
Dienende leierskap
In 1 Petrus 5:2-3 sê Petrus vir die kerkleiers: “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid;…” Dit is duidelik dat die ouderlinge verantwoordelikheid dra vir die mense in hulle gemeente. Maar Petrus gaan voort: “ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees.”
Die kerkleiers moenie arrogant en dominerend oor gemeentelede wees nie, maar die regte voorbeeld gee.
Dit gaan nie oor regeer nie, maar oor dien.
Regstelling en leiding
Dit beteken natuurlik nie dat jy dit nie ernstig moet opneem wanneer ‘n kerkouderling of ‘n ander medegelowige jou waarsku dat jy verkeerde besluite neem nie. Of as hulle vir jou sê dat daar spesifieke sondes in jou lewe is wat hanteer moet word, of dat jy jou misgis oor een of ander teologiese waarheid. As dit die geval is, moet jy nie gehoorsaam nie aangesien die kerk dit vir jou sê, maar versigtig oorweeg, bestudeer en bid oor hierdie kwessie. Om ‘n kerklidmaat te wees sluit die seën van liefdevolle teregwysing en leiding van ander Christene in, en dit is baie wys om dit ter harte te neem.
Dit is nooit reg om te sondig nie
Jy kan nie daarop aanspraak maak dat iemand verlore gaan as hy nie doen wat die kerk vir hom sê nie. Wat saak maak, is wat God in Sy Woord sê. Dit bepaal wat ons moet doen of nie. As jy nie doen wat God jou sê om te doen nie, is dit sonde. En sonde lei tot die dood (Romeine 6:16). Ons weet dat die Here Jesus vir ons sondes gekruisig is, en daarom kan ons met God versoen word (Romeine 5:8-10). Dit beteken egter nooit dat dit goed is om te sondig nie, want God sal ons in elk geval vergewe. Besef hoeveel jou sondes die Here Jesus gekos het, wat daarvoor betaal het! Hy is lief vir jou en wil die beste vir jou hê. Daarom gee Hy vir jou reëls om volgens te lewe.
Hardloop die wedloop
Niemand is heeltemal vry van sonde nie. Christene maak ook foute. In Hebreërs 12:1 word ons opgeroep om “…elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,”.
Jou lewe is ‘n wedloop, waarin jy Jesus na jou beste vermoë volg. Die kerk kan en moet jou hierin help. Maar uiteindelik kyk ons na Jesus: “Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Hebreërs 12:3).
Genade
Ons word nie gered deur presies te doen wat die kerk vir ons sê nie. Ons word nie eers gered deur presies te doen wat God vir ons sê nie – ons kan nie. Ons word gered deur God se genade, deur die vergifnis wat Jesus vir ons verdien het. Dit gee my vrede en ‘n diep verlange om Hom te volg. Jou ook?