Liefde

jetty-with-wood-fences-on-backside-and-in-the-middle-the-sunset

“Streef na…liefde,” (1 Timoteus 6:11)

Hierdie vermaning om na liefde te streef, gaan nie soseer oor romantiese liefde nie, maar oor broederliefde.
Dit is nie in die eerste plek ‘n emosie wat oor jou kan kom nie, maar eerder ‘n gesindheid en deug wat jy moet nastreef. Dit blyk deur goed te doen aan almal, en veral aan ons medegelowiges (Galasiërs 6:10), deur eer en empatie te betoon en mekaar geestelik op te bou.

Jesus noem selfs broederliefde as ‘n kenmerk van Christene: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Johannes 13:35).
Dit is nie altyd maklik om ons geestelike broers en susters lief te hê nie, want hulle is net so onvolmaak soos ons self. Hulle gedra hulle ook nie altyd mooi nie.
Gevolglik is dit vertroostend om te weet dat ons nie broederliefde deur ons eie inspanning moet “produseer” nie. Dit is ‘n vrug van die Heilige Gees wat in ons harte woon, gevoed deur die liefde waarmee Jesus ons liefhet. Ons is in staat om God en medemens lief te hê, “ omdat God ons eerste liefgehad het. ” (1 Johannes 4:19).

Is jou hart gevul met God se liefde?

Deel plasing