Hoe moet ek my ouers gehoorsaam as hulle nie saamstem nie?

god-is-good

Dit is waar dat die Bybel ons meerdere kere beveel om ons ouers te eer en te gehoorsaam: Eksodus 20:12, Levitikus 19:3 en ook in die Nuwe Testament, Efesiërs 6:1-3.
Kinders moet luister na wat hulle ouers hulle leer (lees Spreuke hoofstuk 1-9). Kinders moet nie hul ouers skend of hulle met minagting behandel nie; die Bybel sê dat elkeen wat dit doen, vervloek word (Deuteronomium 27:16).

Die eerste gebod met ‘n belofte

Gehoorsaamheid en eer aan jou ouers is die eerste gebod wat met ‘n belofte kom: “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.“(Eks. 20:12). Daarom eer God jou as jy jou ouers eer!

Geen eenheid

In die geval dat ouers aan die kind vertel om verskillende dinge te doen, is dit onmoontlik dat die kind beide ouers kan gehoorsaam. Dan vorm die ouers nie die eenheid wat hulle behoort te wees nie, en hulle kind is nie daarvoor verantwoordelik nie. Op die manier kan hy of sy nie geblameer word wanneer albei ouers nie gehoorsaam is nie.

Die beste ding om te doen is om die saak voor God in gebed te bring en vir Sy leiding te vra. Hy sal ‘n uitweg gee wanneer jou voorneme is om Sy gebod te gehoorsaam – die gebod om beide jou ouers te gehoorsaam. God eer altyd gehoorsaamheid aan sy gebooie!

Eer jou ouers

Alhoewel dit baie moeilik kan wees om albei ouers te gehoorsaam, kan kinders albei  hulle ouers eer. Die Bybel waarsku duidelik daarteen om ouers te behandel met minagting of veragting (Deut. 21:18,19; 27:16; Spr. 19:26).
Hulle is immers die mense wat lewe aan hulle kinders gegee het (Spr. 23: 22,25) en daarom wil God hê dat kinders hul ouers moet respekteer, ongeag hulle gedrag.

Dit beteken dat jy nie jou ouers teen mekaar gebruik nie, maar met respek oor hulle praat. Dit beteken dat jy bereidwilligheid teenoor die ouers toon om hulle te help; om liefde en respek te toon.

Moenie uittart nie

Vaders word deur die apostel Paulus gewaarsku om nie hul kinders uit te tart nie, sodat hulle nie moedeloos word nie (Kolossense 3:21), en hulle kry die opdrag om hulle kinders in die dissipline van die Here op te voed. (Ef. 6:4).

Groot verantwoordelikheid

So vaders en moeders het ook ‘n groot verantwoordelikheid om hul kinders verstandig te hanteer en hulle te leer oor die Here. God sal ouers verantwoordelik hou wanneer hulle nie hul ouerlike pligte nakom nie!

Deel plasing