Bybelwoord.net
Hoe kan ons dankbaarheid daagliks uitleef?

Hoe kan ons dankbaarheid daagliks uitleef?

As christene is ons hoof rede vir dankbaarheid die feit dat ons kinders van God is (Joh 1:12). God reik Sy hand uit na jou, Sy kind. Jy moet dit net raak sien en Sy hand neem! Die bloed van Jesus het jou vrygekoop van die las van sonde. Dit oorwin vrees vir die dood en gee ons die vooruitsig van ‘n ewige lewe (Joh 3:16).

Jy is nooit meer alleen nie, want Jesus, jou Verlosser, is jou vriend en die Heilige Gees woon binne jou om jou te lei (Joh 14:16-18). ‘n Lewenstyl van dankbaarheid hiervoor sal jou deur alle beproewinge en uitdagings in die lewe lei.

Ons is geneig om God en Sy goedheid te vergeet, net soos die volk van Israel in Psalm 78:11 ‘vergeet van sy werke, van die wonderdade wat Hy hulle laat sien het.’ Daarom is dit belangrik dat ons aanhoudend die Woord van God lees om ons te herinner aan die oorvloedige goedheid, verlossing en ewige lewe wat ons van Hom ontvang. Dit is ook belangrik dat ons met ander Christene in kontak bly en mekaar bemoedig (Hebreërs 10:24-25).

Dankbaarheidsjoernaal

Herinner jouself gereeld aan die dinge waarvoor jy dankbaar is en ook waarvoor jy dankbaar kan wees. Wanneer jy dit neer skryf leer jy om ‘n basis van dankbaarheid in jou lewe te kweek en bou je aan ‘n dankbaarheidsgevoel! Al is daar moeilike omstandighede in jou lewe, is daar altyd iets om voor dankbaar te wees. Deur hierna te soek en ons dankbaarheid daarvoor uit te leef, help dit ons om te volhard in moeilike tye.

Skryf aan die einde van elke dag 3-5 dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Wanneer jy deur ’n moeilike seisoen gaan, kan dit jou help om terug te kyk na wat jy voorheen neergeskryf het.

Verander jou gedagtes

Paulus, die apostel, het die geheim ontdek om alle omstandighede te oorkom. Jesus het hom krag gegee daarvoor (Fillipense 4:12-13). Wanneer ons die gedagtes van God aanneem, dan verstaan ons dat ons omstandighede nie ’n probleem is nie, maar dat hoe ons daaroor dink bepaal hoe moeilik of maklik dit vir ons is. Wanneer ons bereid is om dit aan God oor te gee, kan ons rus vind in die wete dat Hy daarvoor sal sorg. Angstigheid en negatiewe gedagtes help nie om ons moeilike omstandighede te verander nie.

Spandeer tyd in die woord van God

Vra jouself af waarvoor jy dankbaar teenoor God kan wees tydens jou daaglikse stilte tyd. Daar sal verseker meer as genoeg dinge wees – vir wie God is, wat Hy vir ons in Christus gedoen het, die voorbeeld van sy Seun en die seëning van vriende, familie en die kerk, om maar ’n paar voorbeelde te noem!

Herinner jouself elke dag aan jou dankbaarhede, verbly jouself daarin en wees dankbaar dat God dit aan jou gee.

Bybelwoord