Bybelwoord.net
Hoe kan ek ’n Christen word?

Hoe kan ek ’n Christen word?

Hoe word ek ‘n Christen? In die Bybel vind ons dieselfde vraag in ander woorde. In Handelinge 16:30-31 vra ‘n tronkbewaarder Paulus en Silas die vraag: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Dus ‘n baie kort antwoord is: Jy moet ‘glo in die Here Jesus’.

Wie is Jesus?

Kom ons ontrafel dit ‘n bietjie uit. Wie is Jesus? Hy is die Seun van God, wat deur God die Vader gestuur is, om een van ons, ‘n mens te word (en op dieselfde tyd nog die Seun van God is). Hy het aan die kruis gesterf vir ons sondes, maar het op die derde dag weer opgestaan en sit nou aan die regterhand van God die Vader. Geloof (om in die Here Jesus te glo) in hierdie Jesus Christus is die enigste ding wat nodig is om gered te word.

Dit is ‘n bevrydende boodskap! Ons hoef onsself nie van sonde skoon te maak nie (ons kan nie). En alhoewel ons geroep is om heilig en sonder sonde te leef nadat ons gelowig word, hoef ons nie in wanhoop te verval wanneer ons sondig nie. Die waarheid is dat ons steeds sal sondig as Christene (alhoewel dit ons hartseer sal maak!), maar ons word gered en bly gered deur ons geloof in Jesus Christus!

Keer terug na Christus!

Wat is geloof? Eintlik is dit ‘n gawe van die Heilige Gees. Wanneer ons in die Here Jesus vertrou, is dit omdat die Heilige Gees ons herskep het. Ons word ‘n nuwe skepping (2 Korintiërs 5:17). Hierdie geloof wat die Heilige Gees ons gee, maak dat ons ‘n heilige lewe wil lei. Maar daar is ook nog ons ou self wat die Gees kan uitblus. Daarom kan Christene steeds sondig. Tog, omdat ons Christus as ons nuwe koning het, word ons geroep om Hom lief te hê en te gehoorsaam. Ware geloof sal altyd wil terugkeer na Christus.

Dit is die genade van God die Vader, wat sy Seun gestuur het, van God die Seun wat vir ons gesterf het, en van God die Heilige Gees wat in ons woon en ons keer op keer terug na Christus bring, dat ons deur die geloof gered is.

Hoe word ek ‘n Christen?

‘Glo in die Here Jesus’.

Wilke den Hertog

Wilke den Hertog

Wilke den Hertog (1975) is in Nederland gebore. Hy studeer teologie aan die Universiteit van Leiden, Apeldoorn en Tübingen. In 2002 word hy predikant en in 2014 verhuis hy en sy gesin na Thailand om langtermyn sendelinge te word. Hy is getroud met Marlies en hulle het twee kinders, Lizette (2011) en Matthias (2013). Wilke en Marlies is kerkplanters in die provinsie Isaan.