Hoe begin ek ‘n gesprek om iemand van God, Jesus of die Evangelie te vertel?

Dit is ‘n baie goeie vraag en ‘n belangrike deel van Christenwees.

Jesus se opdrag

In Matteus 28:19–20 het Jesus gesê: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Hier lees ons van 4 verskillende dele:

  1. Gaan
  2. Maak dissipels
  3. Doop hulle
  4. Leer hulle

As jy ‘n Christen is, is jy ook ‘n dissipel en daarom is hierdie opdrag vir jou, en vir almal wat hulself Christene noem. Jy dink dalk dat dit te moeilik en ‘n bietjie veel vir gewone mense is. Jesus het geweet dat dit vir sommige van ons onmoontlik sou lyk, daarom voltooi Hy sy opdrag met die belofte: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Nie een van ons het ‘n verskoning om nie te getuig nie, ander van Jesus te vertel en mense die geleentheid te gee om Hom self te leer ken nie.

Hoe begin jy?

Vra aan God on jou geleenthede te gee om gedurende die dag aan iemand oor Hom te vertel. Dit sal ‘n goeie idee wees om ‘n paar Bybelverse wat jy ken, en dalk ander gebruik het, by jou te hê wat mense help om die belangrikheid daarvan in te sien om oor hierdie dinge te dink. As jy die Here gevra het om jou te help, dan is enige iemand wat jy gedurende die dag ontmoet iemand wat Hy vir jou gestuur het met die geleentheid om vir hulle die Evangelie te vertel.

Indien moontlik, gaan in groepe

Soms sal ons onsself in situasies bevind waar ons op ons eie is en God net die deur vir ons oopmaak, maar, indien moontlik – veral as jy nuut hierin is – gaan saam met iemand wat meer ervaring as jy wat die leiding kan neem.

Gesprekke met vreemdelinge

Dit kan baie moeilik wees om ‘n gesprek te begin, maar as jy hoop om iets te sê, sê iets in die eerste 10 sekondes nadat jy hulle ontmoet het: “Dis ‘n lekker dag…”, “Hoe gaan dit vandag?”, “Is hierdie sitplek vry? ”, “Ek dink jy het dit laat val …”, “Ek sien jy lees die koerant, wat is die opskrifte vandag?”

Gesprekke met bekendes

As jy hulle ken of voel dat jy graag met iets anders as die bogenoemde aanknopingspunte wil begin, vra die Here om jou in die gesprek te lei. As hulle oor hulself begin praat, luister en kyk of daar iets is wat jy kan gebruik as ‘n brug na ‘n gesprek oor die Here.

Jou getuienis

Hieruit kan jy jou storie deel van hoe jy God leer ken het deur die 3 opskrifte te gebruik:

  • Hoe ek was voordat ek God leer ken het?
  • Waarom ek God leer ken het?
  • Wat het verander sedert ek Hom ontmoet het?

Afronding

As jy so ver in ’n gesprek kon kom, is dit moontlik dat die persoon wat luister oor iets uitgedaag is of belangstel om hul soeke na die waarheid voort te sit. Voordat jy vertrek, daag hulle op een of ander manier uit:

  • Stel jy belang om meer te weet?
  • Stel jy belang om die een ware God te ken, wat jou liefhet en alles moontlik gedoen het sodat jy hom kan leer ken?

Reageer op hulle soos toepaslik is. Gee vir hulle ‘n bybelvers of bybelgedeelte. Of ‘n kontaknommer of adres of naam van ‘n kerk sodat dit moontlik is om op te volg wanneer die persone dit graag wil doen.

Soos jy vertek

Sê dankie vir hulle tyd en vra hulle of daar iets is waaroor hulle wil hê jy moet bid. Indien gepas, bid net daar en dan vir hulle. As hulle bereid was om vir jou hul kontakbesonderhede te gee, vertel hulle dat jy vir hulle gaan bid en dat jy of iemand van die kerk hulle oor ‘n paar dae sal kontak. Verseker hulle dat daar geen druk is nie, maar moedig hulle aan in hul soeke na die waarheid.

Deel plasing