Ja hy het!
Dit is die kern van ons geloof. Jesus is gekruisig en sy dooie liggaam is op ‘n Vrydag begrawe. Twee dae later, op Paassondag – waarskynlik 7 April, 30AD (anno Domini”, wat beteken “in die jaar van ons Here”) – het ‘n groep vroue na sy graf gegaan.
Engele het aan hulle verskyn en gesê: “5Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek”(Lukas 24:5-6, AFR 83). In die dae en weke daarna verskyn die opgestane Jesus talle kere aan die vroue, sy dissipels, aan sy broer Jakobus en selfs een keer aan vyfhonderd mense op een slag (Lukas 24 en 1 Korintiërs 15). Na 40 dae het hy na die hemel opgevaar (Handelinge 1:4-14).
Hoe weet ons hierdie gebeure is geskiedenis en nie net ‘n mite nie? Daar is verskeie sterk redes hiervoor.
1. Die leë graf
Binne twee maande na die kruisiging het die dissipels in Jerusalem uitgeroep dat Jesus uit die dood opgestaan het. Niemand kon sê ‘julle praat onsin, hier is sy graf’ nie, want die graf was leeg.
2. Die geloof van die dissipels
Toe Jesus gesterf het, was sy dissipels sonder hoop. Net weke later was die dissipels so sterk oortuig dat Jesus uit die dood opgestaan het, dat hulle oral oor die wêreld heen gegaan het om dit te verkondig. Hulle het met hul lewens vir hul oortuiging betaal, met waarskynlik 11 van die 12 dissipels wat as ‘n martelaar gesterf het. Hulle het die opgestane Jesus gesien en met Hom gepraat.
3. Die getuienis van die vroue
Al die evangelies, Matteus, Markus, Lukas en Johannes noem vroue as die eerste mense om die opgestane Jesus te sien. Dit sal nooit in ‘n opgemaakte verhaal gebeur nie, aangesien die getuienis van vroue nie in die antieke wêreld as betroubaar beskou is nie. Omdat dit die manier is waarop dit gebeur het, is dit die manier waarop die Bybel die gebeure rapporteer.
4. Die omskakeling van Jakobus
Die evangelies sê dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie (Joh. 7:5). Die opgestane Jesus het egter aan sy broer Jakobus verskyn (1 Korintiërs 15:7). Jakobus het toe in Jesus begin glo en ‘n leier van die kerk geword (Handelinge 15; Galasiërs 1:19). ʼn Skeptiese het in ‘n gelowige verander. Die rede hiervoor was: Jakobus het gesien dat Jesus, wat dood was, weer lewendig geword het.
5. Antieke getuienis
Paulus gee aan ons ‘n geloofsverklaring van die vroeë kerk in 1 Korintiërs 15:3-5 (AFR 83) oor die opstanding van Jesus: “3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf”. Paulus het hierdie 24 jaar na die opstanding geskryf, en sê dat hy dit “ontvang” het, dus het hy dit van ander gehoor. Hy het ongeveer 5 jaar na die opstanding begin preek en moes dit ontvang het voordat hy begin preek het. Teen daardie tyd was dit reeds ‘n geloofsbelydenis, dus moes die geloof binne een tot drie jaar na die opstanding van Jesus ontstaan het! Die opstanding is nie ‘n verhaal wat jare na die lewe van Jesus op gemaak is nie, maar vorm die kern van ons geloof direk na sy aardse leeftyd.
6. Moderne getuienis
Oor die hele wêreld vertel mense dat Jesus hul lewens verander het nadat hulle in Hom begin glo het. Omdat Jesus uit die dood opgewek is, leef hy vandag. Hy kan ook in jou lewe werk. Laat hom die Here van jou lewe wees, en dan sal jy op die pad van ewige geluk wandel.