Diegene van ons wat in God glo, glo dat Hy ons gebede hoor, maar glo ons dat Hy ons gebede beantwoord? Hy doen! – op sy eie manier en eie tyd. Dit is dalk nie presies die antwoord wat ons wil hê nie en dit kan ons selfs laat wonder of Hy ons regtig liefhet. Ons sal wel mettertyd besef dat die manier waarop Hy ons gebede beantwoord, die beste vir ons is en tot ons voordeel strek.
Die voorbeeld van Habakuk
Die profeet Habakuk het gewonder of God regtig die nasie van Juda liefgehad het, waar die magtiges en regeerders baie betrokke was by sonde en korrupsie. Hulle het die armes en magteloos onderdruk en dit het gelyk of God niks daaraan gaan doen nie. In Habakuk 1:2 het Habakuk die volgende van die Here gevra: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, HERE, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?” (AFR 83).
Op ‘n sekere punt in ons lewe het ons dalk al dieselfde vraag gevra. God het Habakuk geantwoord, maar dit was nie die antwoord wat hy verwag het nie. God se oplossing vir die sonde van Juda was om hulle deur die meedoënlose Babiloniërs te laat aanval. Habakuk het gekla en gesê dat dit te erge optrede was, maar God het Habakuk verseker dat Hy ook met die Babiloniërs sal afreken (Habakuk 1:12-2:20). Uiteindelik het Habakuk erken dat God soewerein is. Hy is goed en wat ook al gebeur, ons kan op Hom vertrou:
“17Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. 19Die Here my God gee my krag. Hy maak my voete soos dié van ʼn ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” (Habakuk 3:17-19, AFR 83)
Hoe beantwoord God ons gebede?
Daar word algemeen aanvaar dat daar drie maniere is waarop God gebed beantwoord: ‘Ja’, ‘Nee’ en ‘Wag’.
JA
‘Ja’ is die antwoord waarna ons smag. En dit is altyd die antwoord wanneer ons God vra om ons sondes in Jesus se Naam te vergewe. Alle gelowiges kan getuig van verskeie kere wat God ons gebede positief geantwoord het. Of dit nou was om ‘n misplaasde voorwerp te vind, die versoek vir Hom om vir ons in te staan tydens ‘n moeilike situasie, of die versoek vir genesing, beskerming, ens.
NEE
‘Nee’ is die antwoord wat ons die minste wil ontvang. Tog is dit nog steeds ‘n antwoord. Ons mag dalk nie God se antwoord op daardie oomblik verstaan nie, maar mettertyd sal ons besef daar is ‘n doel wanneer God ‘Nee’ sê. ‘n Goeie voorbeeld is die gebedsversoek wat deur Nick Vujicic gemaak is vir ledemate, alhoewel hy sonder ledemate gebore is. Toe God se antwoord nee was, was Nick so teleurgesteld dat hy selfmoord wou pleeg. God het hom egter gebruik om te wys dat daar meer waarde in Jesus is as om ledemate te hê. Nick weet nou waarom God vir hom ‘Nee’ gesê het.
WAG
‘Wag’ is ook ‘n moeilike antwoord om van God af te ontvang. Wanneer dit gebeur, moet ons onsself herinner dat God in beheer is en beslis ons situasie ken en kan hanteer. Ons moet Hom toelaat om voort te gaan met die werk wat Hy goeddink. Ons kan nie ons eie dinge probeer doen en bo-oor God se plan vir ons werk nie. Ons moet eerder werklik geduldig wees en wag op Sy tydsberekening.
Alhoewel Habakuk dit nie kon sien nie, was God die hele tyd aan die werk en was Sy hand teenwoordig. Hy doen dieselfde in ons, sy volgelinge, se lewens. Hy is soewerein oor al die besonderhede van ons lewe. God beantwoord inderdaad gebed.